Groete van die Hiëna deur Leon de Villiers
“Daar is dus nie so ‘n ding soos chaos nie,” sê die goudvis.
“Selfs binne-in die deurmekaarste dinge – dit wat vir ons na totale chaos lyk – is daar orde. ‘n Verborge patroon weggesteek.”
Die Siamese kat sug in vervoering. Sy is dol oor diep gesprekke. Hoe dieper hoe beter.
“Hmm, fraktale. Die herhaling van patrone binne-in patrone binne-in patrone. Sonder om ooit op te hou. Kleiner en kleiner maar altyd dieselfde patroon. Nie net is daar orde in die skynbare chaos nie, maar alles het ‘n invloed op mekaar.”
“Dis reg, dis reg,” borrel die goudvis. “Alles is ineengeweef. Die lewe rimpel van kant tot kant. Ons woorde hier laat ‘n blom daar in …”
“Sjuut!” onderbreek die kat. “Moet liewer niks verder sê nie. Die mure het ore.”
In die Paleis van Chaos loop Roek Rykema hom om elke hoek en draai in sulke diep gesprekke vas, en hy weet nie eers hoe hy daarin beland het nie! Want al probeer hy ook hoe, kan hy nie ontsnap aan Crocuta nie, die smalende hiëna wat hom keer op keer konfronteer met sy diepste geheime. Al uitweg vir Roek is om met die stories wat hy in sy binnewêreld geskep het, ‘n dekagoon te bou om uit die Paleis te ontsnap.
Groete van die hiëna is ‘n besonderse verhaal uit die pen van die pryswennerskrywer Leon de Villiers. Dit neem die leser deur parallelle wêrelde, deur fantasieë en verhale wat in die onderbewussyn roer, deur die Paleis van Chaos en die Tuin van Orde, tot anderkant uit deur chaos se gat!


Reviews